Wie is ons

Gamka Klassiek is die geesteskind van Elna van der Merwe, die bekende pianis van Stellenbosch wat 'n spesiale verbintenis met Prince Albert het.
Haar man Deon was op skool in Prince Albert en die gesinsplaas net buite die dorp is steeds in hul besit. Dit was nog altyd haar droom om 'n kamermusiekfees in hierdie unieke Karoodorp aan te bied …Toe sy hierdie visie met 'n paar geesgenote deel, het die droom 'n werklikheid geword - en Gamka Klassiek is gebore!
Die fees vier trots die Afrikaanse kultuur, met Afrikaanse musikante wat hul musiek na die platteland en gemeenskappe van die Karoo bring. Elna is die feesbestuurder en dien ook as artistieke direkteur, ondersteun deur Japie Gouws (finansiële bestuurder), Leoné Pitts (feeskoördineerder, bemarking en skakelbeampte) en Ilzebet Oosthuizen (borgskapbestuurder).
Gamka Klassiek word aangebied in samewerking met PACT (Prince Albert Community Trust), 'n plaaslike organisasie wat daarop gemik is om jongmense se potensiaal te ontsluit. Hul visie is om die gemeenskappe van Prince Albert te ontwikkel en transformeer deur ‘n verskeidenheid programme en platvorms te skep vir voorheen benadeelde individue: dit geskied deur onderrig, opheffing, kulturele onderneming en die kweek van leierskap onder kinders en jongmense.
Die feesprogram sluit van ons land se hoogs aangeskrewe musici in, waaronder die violiste Zanta Hofmeyr en Annien Shaw, die altviolis Jeanne-Louise Moolman, die tjellis Susan Mouton, die pianis Elna van der Merwe, asook die manjifieke sangers Lynelle Kenned, Corneill Muller en William Berger.
Elna het die naweekprogram saamgestel wat ‘n verskeidenheid musieklekkernye vir kamermusieklefhebbers oor ‘n wye spektrum insluit.
Prince Albert sal Gamka Klassiek jaarliks huisves en musiekopvoeding en vermaak bied aan die gemeenskappe van Prins Albert, Leeu Gamka, Klaarstroom, en verder. Benewens PACT, werk ons saam met plaaslike gemeenskappe en besighede soos The Showroom, die NG Kerk, en Swartberg Hotel.
Gamka Klassiek 2026 vind plaas van 5 -7 Junie 2026. Skud jou vere reg vir ‘n viering van kamermusiek uit die boonste rakke. Word deel van die betowering wanneer die klank van snaar, klavier en stem deur Prince Albert se strate weerklink!









