Klei Werkswinkel
3 June 2025Afrikaans 100
3 June 2025KINDERKONSERT
As deel van die opvoedkundige feesprogram van Gamka Klassiek en 100 jarige viering van Afrikaans as `n amptelike taal, het ’n sprankelende kinderkonsert plaasgevind wat die harte van Prins Albert se jongstes verower het. Onder die meesterlike leiding van bekroonde sopraan Lynelle Kenned, is geliefde Afrikaanse volksliedere op ’n speelse, toeganklike en interaktiewe wyse aan laerskoolkinders bekendgestel.
Die konsert was veel meer as bloot musiek – dit was ’n viering van kultuurerfenis. Liedjies soos bekende FAK-treffers is met soveel entoesiasme uitgevoer, dat die jong gehoor nie kon anders as om saam te sing en te dans nie. William Berger en die talentvolle Elna van der Merwe, Susan Mouton, Jeanne-Louise Moolman en Annien Shaw het die kinders begelei op hierdie musikale reis wat hul liefde vir taal, lied en tradisie versterk het.
Die gehoor het bestaan uit sowat 150 kinders – van laerskole in die omliggende gebied én kinders uit die breër gemeenskap. Na ’n kreatiewe oggend in die kleiwerkswinkel, is hulle bederf met musiek wat hul kultuurskatte op nuwe maniere laat herleef het.
Met vrolike voetjies, klankryke hartsnare en ’n gevoel van samehorigheid, het die kinderkonsert nie net kultuur oorgedra nie, maar herinner dat Afrikaans nie net bestaan nie – dit leef, sing en dans in die harte van ons kinders vir nog `n 100 jaar.















