Kinderkonsert
3 June 2025KLEI WERKSWINKEL VIR KINDERS
Onder die liefdevolle leiding van beeldende kunstenaar Maritza Breitenbach het die wêreld van beeldhouwerk oopgevou vir meer as 60 voorskoolse kinders by die PACT Gemeenskapsentrum in Prins Albert. Hierdie spesiale klei werkswinkel, aangebied as deel van die Gamka Klassiek Musiekfees se opvoedkundige program, het jong kunstenaars van omliggende skole bymekaargebring vir ’n oggend vol kreatiwiteit, pret en verbeelding.
Die sessie het afgeskop met ’n inleiding oor beeldhouwerk, waar Maritza met entoesiasme en humor die kinders bekendgestel het aan die gebruik van verskillende gereedskap, tegnieke en metodes wat kunstenaars gebruik om met klei en ander materiale te werk. Sy het klem gelê op die belangrikheid van veiligheid in beeldhou, en kinders het spelenderwys geleer van handskoene, veiligheidsbrille en ander toerusting wat nodig is wanneer jy met materiale werk.
Vervolgens is elke kind aangemoedig om hul eie meesterstuk te skep – met klei in die hande en die natuurlike elemente van die omgewing as inspirasie. Maritza het elke kind betrek en bemoedig, en die ruimte het gegons van kreatiwiteit en lag.
Dié klei werkswinkel het nie net handvaardigheid ontwikkel nie, maar ook kinders se kreatiewe uitdrukking en liefde vir die kunste versterk. Dit was ’n viering van kindwees, gemeenskap en kultuur – iets wat ons met trots vanuit Prins Albert met die wêreld deel.








